Die Rupert Museum stel die unieke private kunsversameling van Anton en Huberte Rupert ten toon. Die museum is geleë tussen skilderagtige wingerde en eikebome in die historiese dorp Stellenbosch op die wal van die Eersterivier.

Die elegante gebou, wat in 2003 in opdrag van Huberte Rupert opgerig is, komplimenteer die argitektoniese geskiedenis, natuurlike skoonheid en wynkultuur van die Stellenbosch-omgewing.

Die Rupert Museum, wat amptelik in Februarie 2005 geopen is, huisves nou meer as 350 werke en kan beskou word as die voorste versameling van kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns vanaf 1940 tot 1970. Die media wat hoofsaaklik vertoon word, is skilderye, beeldhouwerke en tapisserieë.

Die galery stel werke van die beste Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Maggie Laubser, Irma Stern, Alexis Preller, Walter Battiss, Elza Dziomba, Jean Welz, J.H. Pierneef, Lippy Lipshitz, Moses Kotler, Anton van Wouw en Coert Steynberg ten toon.

Daarbenewens is daar ook groot Europese werke deur toonaangewende beeldhouers soos Auguste Rodin en Käthe Kollwitz asook Franse tapisserieë deur Jean Lurçat.

Die privaatversameling, wat vroeg in die 1940’s begin is, onthul die fyn kunssinnige oog en keurige persoonlike smaak van Anton en Huberte Rupert. Vandag groei die versameling steeds onder die sorgsame kuratorskap van die Rupert Kunsstigting.

Die Rupert Kunsmuseum is ongeveer 60 km buite Kaapstad (’n rit van 40 minute) en kan waardeer word te midde van die wêreldklas wynlandgoedere en voortreflike restaurante van die omgewing.