Walter Battiss: “Ek, my eie uitvindsel” 14 Februarie – 11 Augustus 2018

Walter Whall Battiss is op 6 Januarie 1906 op die Karoodorp Somerset-Oos gebore. In 1917 het sy gesin hulle op Koffiefontein in die Suid-Vrystaat gevestig, waar sy belangstelling in argeologie en inheemse kuns vir die eerste keer geprikkel is. So het die reis begin wat daartoe sou lei dat Battiss nie net ’n aktivis en voortdurende vernuwer geword het nie, maar ook ’n vooraanstaande Suid-Afrikaanse abstrakte skilder en die skepper van die Fookeiland-konsep. Later in sy lewe het dit die plek geword van Battiss se fantastiese verbeeldingsvlugte en ’n uitlaatklep vir sy unieke ingesteldheid as ’n vooruitstrewende skepper, ongebonde deur politieke perke en maatskaplike konvensies.

Battiss het jare lank onderwys gegee, eers in 1933 aan die Parkskool in Turffontein, Johannesburg, vanaf 1936 aan die Pretoria Boys High School, daarna aan die Pretoriase Kunssentrum en eindelik aan Unisa, waar hy in 1964 as kunsprofessor aangestel is. Terselfdertyd het hy talle letterkundige werke geskep en gepubliseer. Sy The Amazing Bushmen van 1938, een van die nege boeke wat hy uitgegee het, is as ’n baanbrekerswerk beskou. Hierna het die tyd wat hy daaraan bestee het om die ingewikkelde en dikwels onopgetekende kunsskeppings van die inheemse mense van die Namibwoestyn na te vors en selfs na te boots in waterkleur, ’n kunsvorm onder die aandag van ’n plaaslike en wêreldgehoor gebring wat tot in daardie stadium nie vir sy artistieke meriete gewaardeer is nie. Dit het ook daartoe gelei dat Battiss in die 1950’s as die “Boemanskilder” bekendgestaan het.

Sy reise, aangespoor deur die konsep van Fookeiland, na die Griekse eilande, Seychelle, Madagaskar, Fidji, Samoa en Zanzibar het ná sy aftrede in 1971 toegeneem. Vir Fookeiland het Battiss ’n alfabet uitgedink, ’n geskiedenis, fauna, flora, posseëls, geldeenheid en selfs amptelike dokumente, soos paspoorte en rybewyse. Die Fookiaanse samelewing was so utopies en verwyderd van die heersende ideale van Suid-Afrika se hoofstroomsamelewing dat talle bekende kunstenaars en skeppende persoonlikhede om burgerskap wou aansoek doen. Battiss het sy kuns gebruik as ’n soort protes teen die konvensies van Suid-Afrika onder apartheid. Sy geaardheid, onkonvensioneel en immer soekend, het voortdurende vernuwing tweede natuur gemaak. In dié gees stel die uitstalling sy vyf lewens voor soos hy dit beskou het.

Die uitstalling sluit vele werke in uit die Jack Ginsberg-versameling, waarvan ’n vername deel aan die Wits-kunsmuseum geskenk is. Sleutelwerke uit die Eduard du Plessis- en Rupert Kunsstigting-versameling is ook daarby ingesluit.

5vm Angsdroom (1976)
5vm Angsdroom (1976)
Mitiese gesig (1969)
Mitiese gesig (1969)
Mitiese figure (1969)
Mitiese figure (1969)